Sunday, December 5, 2010

Briewe aan Oom Schalk: Die Boesmanland Tjop en Dop

Groete Oom Schalk,

Gasvryheid is in emmers bedien by die Boesmanland Pub and Grill. Die kroeg se stoele is vol stories en as jy lank genoeg daar kuier sal jy self vind, dat bene wat by inloop sterk gestaan het, laataand bietjie krom loop, in hulle soektog vir kamer en bed.

My eerste kennis met die BP&G, in Loeriesfontein, het plaas gevind na 'n langpad se ry, vol babbelaas en sooibrand vanuit Victoria Wes, waar ek die vorige aand die sloping van 'n kas wyn by die Merino Steak House gehelp organiseer het. (So ver as wat ek kan onthou, moes daar iewers dinamiet met die sloping betrokke geraak, want ons was almal stukkend geblaas teen die einde van die aand!)

By inloop in die kroeg, kon Adri, die kroegman, asook skaapboer, slagter en voorsitter van die rugby klub onmiddelik sien, hoe ek sou gesukkel het om 'n "Klippies en Coke" te kou. Hy het voorgestel dat ek eers die langpad onder 'n stortbad gaan uitwas, terwyl hy en die ander man wat daar was, Kris-Jan, vlamme onder 'n klomp skaap tjoppe begin sit om die naweek, hier by Donderdag, ordentlik aan die gang kry.
In die gesig van sulke ervaring en wysheid het ek die warm waters van die kamer se stortbad loop soek...

My uitloop by die kamer so 'n halfuur later is gegroet met die reuk van braai tjops bo kole. Met die - hemel se reuk - voor my en die myle van die dag se langpad mooi uitgewas en gebere, was ek weer so reg soos 'n hond vol blaf!

Die vroeg aand se praat het gou sy pas gevind en die pad van Enkelsfontein tot in Dubbel-Dopsdrif is spoedig afgele.Ons het 'n hele aardrykskunde van gesprek omsingel voor ons by Tjoppieslaagte uitgekom en daar het ons, heel geselig, smul lekker geeet. Ja Nee, drie manne, 'n paar stewige doppe - sappige tjoppe en Die Taal vol kleur en geur - dit was betowerend!

Ons was net besig om 'n nuwe gesprek's pad met voluit spoed te vind, toe 'n sms vanuit Waterval-Boven ons herriner het van sake by Waterval-Onder en ons moes die praat stories tydelik staak om die kokerboom buite te probeer red van 'n droogte-dood.... dit gebeur soms, by so 'n noodwendige staking van gesprek, dat die stilte van 'n kerk oor 'n gemeente kan val en iewerskielik was dit net so daar buite - drie manne vol konsentrasie om 'n kokerboom... Kris-Jan breek die stilte en vra vir my, so stilweg. "Are you English..."? "I am", I replied, somewhat surprised!
"So am I", he said quietly, "and my name is not Kris-Jan, my name is Chris Young"!
Die stem van Adri loop skielik by ons in, "Gentlemen, thankfully I am now intoxicated enough to speak perfect English. What about a Gin and Tonic, before we kick off for the second half"!

Hy het omgedraai om die glasse te laat vol laai en ons twee rooinekke het begin sing....
...'Lang arm liefde
en brand arm wyn
Kom soen vir jou siel
hier in Loeriesfontein'...

Ja Oom Schalk, sulke "vergaderings" loop min verby en is vol waarde vir die dag se siek verlof wat noodsaaklik gemors is die volgende oggend. Ons moet so ene reel, sommer gou, daar bo in die Marico... as ons genoeg manne bymekaar kan kry, kan ons die land agter die Dwarsberge ook miskien red van die droogte!
Stuur groete vir almal,
Die Uwe,
Spyker Koekemoer

No comments:

Post a Comment